Entrance: The entrance fee is JUST R3 per person!
Date: 12 April 2026
Times:
Information: Time: Between 14h00 – 16h00! Pieter Pruis, beter bekend as die “Benoni Baby”, is
op 28 Oktober 2005 gebore en het in Benoni grootgeword. Hy
beskryf sy kinderjare as opwindend en vol lewe. “Ek sou sê die manier waarop ek
grootgemaak is, was baie konserwatief — soos in die ou dae,” vertel Pieter met
’n glimlag. “Maar ek het my kinderlewe geniet — ons het visgevang en sommer net
alles gedoen wat seuns doen.” In laerskool was Pieter ’n toegewyde rugbyspeler: kaptein
van die A-span, eerste skopper, en afgerig deur sy pa. Maar sy lewenspad het ’n
verrassende draai geneem toe die kooronderwyseres hom eendag genader het om vir
die koor te oudisie. Hy het die Suid-Afrikaanse volkslied gesing, en die res is
geskiedenis. “Daardie dag het ek vir my pa gesê ek wil nie meer rugby speel nie, ek wil
sing,” vertel hy. Kort daarna het Pieter by die Ekurhuleni Kinderkoor aangesluit
en selfs saam met hulle na die Koor-Olimpiese Spele gereis —
dit is waar sy musiekloopbaan sou begin. Teen hoërskool het Pieter reeds begin optree en gigs
doen. Op net 16 het hy reeds backing vocals vir bekende
kunstenaars gedoen, onder andere vir Kurt Darren se
treffer “Die 80’s” by Select Musiek. “Daardie ervaring het my
oë oopgemaak — ek het toe geweet ek wil by ’n platemaatskappy wees. Dis waar my
passie regtig begin het.” Wat sy storie nóg merkwaardiger maak, is dat niemand
in sy familie musikaal is nie. “Alles het begin by daardie koor tannie in
graad 6,” sê hy dankbaar. Hoewel Pieter se voorkoms dikwels netjies en stylvol is,
beskryf hy homself as ’n gewone ou wat hou van visvang en quad
bike ry. Sy musiek is egter enigiets behalwe alledaags — ’n energieke
mengsel van rou emosie en rock-geïnspireerde krag. Sy grootste invloede lê in 80’s rock met
kunstenaars soos Mötley Crüe en Nirvana wat
hom inspireer. In die Afrikaanse musiekbedryf luister hy graag na Elandré en Spoegwolf. “Ek hou daarvan dat my musiek energie het,” verduidelik hy. “Maar ek skryf
ook diep songs — veral wanneer ek af voel. Dis hoe ek my emosies wys, want ek
praat nie maklik daaroor nie.” Pieter se musiek put dikwels inspirasie uit liefde —
veral oor “girls wat ek nie kan kry nie,” erken hy met ’n glimlag. “Ek is maar
bietjie teruggetrokke as dit by meisies kom, so ek skryf maar daaroor.” Sy liedjies begin altyd by die woorde.
“Lirieke kom altyd eerste by my op, en op die vreemdste plekke. Ek het hierdie
ding waar ek soggens voor werk by die dam gaan sit — dis gewoonlik daar waar
die woorde my tref.” Pieter het sy heel eerste TikTok op 3
Junie 2025 geplaas — en dit het meer as 72,000 kyke gekry.
Bekende kunstenaars soos Logan Pietersen, Tino, Brendan
Peyper, Elandré, Hendre Baard, Gian Groen, Juan
Boucher, en Nicholis Louw het almal op sy videos
kommentaar gelewer — ’n teken dat die musiekbedryf reeds kennis van sy talent
neem. Kort daarna is Pieter op die Ontbytprogram
“Goeiemore Good Morning” uitgelig as deel van ’n segment oor
TikTok-sangers. Hy het so groot indruk gemaak dat CoolerBox Records hom
raakgesien en ’n kontrak aangebied het. Pieter het later die
groot nuus weer op dieselfde program gedeel — en sy dankbaarheid uitgespreek
teenoor die span wat hom eerste raakgesien het. Met sy unieke klank, opregte lirieke en natuurlike sjarme
mik Pieter daarna om op die grootste verhoë in Suid-Afrika te
staan — saam met van die land se top kunstenaars. “Ek wil hê my musiek moet ’n verskil maak in mense se lewens. As mense my
liedjies saam met my sing, weet ek ek doen iets reg. Ek doen dit vir die mense
— nie vir die image nie.” Met sy sielvolle stem, rou eerlikheid en natuurlike
sjarme is Pieter Pruis besig om sy plek in die Afrikaanse
musiekwêreld te vestig. Hy is die perfekte kombinasie van moderne energie en
ou-skool opregtheid — die nuwe stem wat Afrikaanse musiek nou nodig het.